WIE IS ONS?
Die ACK Hamilton was die 2de gemeente van die Afrikaanse Christen Kerk in New Zealand en het op 16 Mei 2004 onafhanklik van die gemeente in Auckland begin funksioneer.
Die ACK van NZ is ’n onafhanklike denominasie wat in NZ ontstaan (1998) het weens ’n behoefte onder ’n groep Suid-Afrikaners aan ’n geestelike bediening in Afrikaans. Intussen het die ACK gegroei tot 10 onafhanklike gemeentes en ’n aantal bedieningspunte.
Elke gemeente het ’n unieke karakter wat voortspruit uit die samestelling van mense wat die Here daar plaas. Die lidmate kom uit ’n wye verskeidenheid denominasies in Suid-Afrika. Dit beteken dus dat dit vir almal ’n nuwe ervaring is van kerk-wees. Dit is wonderlik bevrydend en verrykend, want ons leer by mekaar en leer ook om mekaar se verskillende maniere van aanbidding te akkommodeer en te aanvaar.
Dit is ’n wonderlike geleentheid om verby die (menslike) verskille en geskille te kyk en die eenheid van gelowiges in Jesus Christus te beleef. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal (Efesiërs 4:4-6).
ONS VISIE
ACK HAMILTON: DIE GEMEENTE MET OOP HARTE NA GOD, TEENOOR MEKAAR EN NA DIE WÊRELD.
God het Sy hart vir ons oopgemaak in Christus en roep ons om ons harte oop te maak vir Hom, teenoor mekaar en na die wêreld.
Daarom:
- – sal ons daarna strewe om in ’n opregte verhouding met God deur Jesus Christus te lewe en om God met ’n oop en onverdeelde hart lief te hê;
- – sal ons ons harte teenoor mekaar oopmaak en in eerlike en opregte geloofsgemeenskap teenoor mekaar leef;
- – sal ons ’n oop hart hê vir die nood en behoefte van die gemeenskap waarin God ons geplaas het en ons daarop toelê om die liefde van Jesus aan die wat nog buite is, te bedien.

